Terug by die huis
Dit is nou al amper die einde van die maand. Ons is nou al so week terug by die huis en my lewe begin nou weer orde kry, of nie heeltemal nie want ek moet nou eers 'n partytjie reël vir Zane wat volgende week verjaar, 4 jaar oud, ek kan dit nie glo nie. Ons gaan sy verjaarsdag op die 2de Augustus hou. Ek het hom nou begin voorberei dat hy 'n Little Einstein partytjie gaan kry en hy begin al baie opgewonde raak, ek kan nie wag dat hy sy geskenk - 'n rocketship met Little Einstein mannetjies moet oopmaak nie. Hy gaan uit sy vel uit wees, ek sal alles op video opneem en dalk kry ek dit reg om 'n videoclip te maak en op die blog te sit, wie weet.
Ek moet nou more al die goed gaan koop, want ek sit nou al 'n week sonder 'n kar, die ratkas van die Renault het gebreek toe ons teruggery het van Maclear af, en dit gaan nog lank vat om reg te maak, daar is geen parte in SA nie, kan jy dit glo!
Ek gaan ook die Sondag weer begin met die Bababediening by die kerk en dan ook volgende week begin homeschool weer, ek het dit lanklaas gedoen en glo dit is nou weer tyd. Zane sal dit ook baie geniet weer.
Nou ja, kom ons dink bietjie terug na PE toe. Ons was weer see toe gewees, net baie koud daar, so nie te lank gebly nie. Daar was een heerlike dag toe ons na die dolfyne gaan kyk het saam met tannie Erra, net baie moeite met Nêo-Rie gewees wat aanmekaar in die water wil ingaan en die dolfyne se balle wil vat, ek het probeer fotos neem, die video kamera hanteer en na haar kyk, het vir Danie baie gemis op daai oomblik. Toe pak ek maar op en gaan kyk na die visse,
Verder het Zane heerlik gespeel, veral met Roro wat ook daar by Maranatha is. Ons is toe die Donderdag daar weg na Maclear vir die naweek, en dit was nou 'n rustige tydjie gewees net om so bietjie te unwind. Die kinders het heerlik daar gespeel en Nêo-Rie is met haar rooi fietsie daar by die afdraende af met 'n stinkspoed dat ons almal se harte amper gaan staan het, maar sy het net gelag en die motorfietsie baie goed beheer. Daarna is sy nog so paar keer daar af met toesig.
Oppad huis toe sukkel die ratkas toe en net buite Johannesburg gee dit heeltemal in, met net genade van bo het ons by die huis gekom in een rat. (3de). By die huis gekom was Nêo-Rie verskriklik opgewonde, sy het op die matjie in die ingangsportaal gestaan en op en af gespring, so bly om by die huis te wees. Van daar af was sy baie rustiger, nie so baie geskree en gekerm soos die laaste 3 weke nie. Ek besef toe eers hoe die hele PE trip haar ontsenu het.
Die laaste week het ek net reggepak en gewas en die huis weer leefbaar gekry, nou moet ek nog net kos koop en die partytjie goed en dan is ons weer reg vir die volgende termyn. Dit is vir my amazing hoe groot die kinders geword het die laaste 3 weke en nuwe mylpale wat bereik is, nog niks nuwe tande nie, maar ander mylpale.
Wel nou kan ek nie vertel vertel nie, wag vir later tot die update van die partytjie.
Comments
Ons was darem ook nou al by die see, en sorry om nou te brêk - maar dit was alles behalwe koud gewees...
Groete vir Zane, en vertel hom dat hy maar sy hemp moet aanhou tot dit weer somer is...