Milan se artikel op Finnesse se website: Erfporsie
In Hollywood is kruiskulturele aanneming meer gewild as Prada. ’n Swart kind op ’n wit heup is die nuutste modebykomstigheid. I
ntussen skiet die getal ouerlose kinders in Suid-Afrika die hoogte in en ons staan onbetrokke op die kantlyn.Die huis waarby ek inry lyk doodgewoon. Siersteenmure, ’n grasdak en ’n helder klimraam in die voortuin, nes enige ander hier in Centurion.
Danie en Esther van Niekerk is gewone Afrikanermense. Alhoewel sy lang grys poniestert en haar bontversierde Crocs iets van hierdie twee vry geeste verklap, staan die paartjie bankvas in hulle geloof. Dat hulle keuses en lewenspad in God geanker is, is duidelik wanneer hulle die storie van Zane se aanneming vertel.
Die groot besluit
Esther het tot verlede jaar toe nog vir MES AKSIE (Metro Evangeliese Sorg) in Johannesburg gewerk. Hulle kantore is in die hartjie van Hillbrow. Sy ken die seer van mense wat op straat woon en was self al die slagoffer van ’n gewapende roof in haar kantoor. Maar Esther het ten spyte van haar en haar familie se vrese, gebly. Sy’t geweet waar God haar wil gebruik. Haar mantra was dan juis Johannes Kerkorrel se woorde, ‘Gee Jou Hart vir Hillbrow’. Min het sy geweet hoe waar hierdie woorde nog in haar lewe sou word.
Sibongile* en haar seuntjie het by die MES kantoor kom aanklop vir hulp. Esther kon vir hulle deur middel van die Joshua program verblyf verskaf en haar seuntjie Mojalefa, is by die Roly Poly kleuterskool in Hillbrow ingeskryf. Op ’n dag het Sibongile vir Esther kom sê dat sy nie meer vir haar seuntjie kan sorg nie, en Esther het in haar hart geweet dat sy en Danie hom sou aanneem. "Op daardie oomblik het God dit vir my so duidelik gewys. Maar ek was bang." vertel Esther. "Ek het daardie aand vir Danie gesê hoe ek voel. Hy was stil vir ’n dag of wat, en toe’t hy net vir my kom sê: ‘Ek weet ons moet hom aanneem.’" Ek kyk verstom na die twee mense voor my. "Net so? Nog voor jy hom ontmoet het?" vra ek Danie ongelowig. Met ’n innerlike rustigheid vertel hy my dat hy nog altyd in God se plan vir hom en Esther glo. "Sy’s in Hillbrow geplaas vir ’n rede. Ek het nog altyd blindelings God se aanwysings gevolg."
Vir Esther was aanneming nie ’n vreemde konsep nie. Sy is self ’n paar dae na haar geboorte aangeneem. In 2005 het sy ’n tweeling verwag, en moes die hartseer van ’n miskraam op 27 weke deurmaak. "Ek het in my hart geweet dat ek weer swanger sou word, so Zane is nie aangeneem omdat ek self nie nog kinders kon hê nie. Ons het hom aangeneem omdat God vir ons die opdrag gegee het. Zane was nooit ’n plaasvervanger nie."
Die lang wag
Drie dae nadat Sibongile in Esther se kantoor kom staan het, het haar seuntjie, Mojalefa vir die naweek by Esther en Danie gaan bly. "Dit was chaos! Daar was nie ’n doek in die huis nie!" Sibongile het saam met die Van Niekerks besluit dat Mojalefa by hulle moet aanbly tydens die aannemingsproses. Die omstandighede in Centurion was net soveel beter vir die 18 maande oue seuntjie. Met elke dag het hulle liefde vir Mojalefa gegroei en Esther moes haar nuwe moederhart vashou.
"Die burokratiese rompslomp het gemaak dat Sibongile lank gevat het om uiteindelik die papiere te onderteken. En selfs toe het sy wetlik 60 dae gehad om haar besluit te verander. Ons wou hê sy moet seker wees van haar besluit en wou nie druk uitoefen nie." Dis in hierdie tyd wat Mojalefa vir die eerste keer vir Esther ‘mamma’ genoem het. "Ek wou nie opgewonde raak nie. Ek wou myself beskerm" vertel sy. Sy moes hom letterlik in God se hande teruggee en vertrou dat Sy wil sal geskied. "As God hom net vir die naweek vir ons gee, was dit reg. As God hom vir twee weke wou gee, was dit reg. As dit vir ’n leeftyd is, is dit reg". Tydens ’n wegbreek naweek saam met hulle selgroep het Esther hierdie inskrywing in haar dagboek gemaak: Pappa en Mamma het lank gedink oor wat om jou te noem. Ons het deur baie boeke geblaai en soms name op jou getoets om te kyk of jy reageer. Ons het van die begin af geweet dat ons Mojalefa gaan hou. Sibongile het gedink ons moet alles verander. Maar dis die naam wat sy jou gegee het. Jy is gebore William Mojalefa Mokgadi. En nou is jy Zane Mojalefa van Niekerk. Mojalefa beteken ‘die een wat sal erf’. Zane beteken ‘geliefde’ of ‘God is genadig’. Dit is presies wat jy vir ons beteken. Jy is ons geliefde, en God was vir ons en vir jou genadig.
Aanpassings en uitdagings
Sommer gou in die gesprek besef ek dat hierdie twee mense hulle nie veel steur aan die negatiewe opinies van mense nie. Hulle leef uit oortuiging en het net Een aan wie hulle verantwoording doen. Tog is die skewe kyke van mense onvermydelik, en dis aan Zane wat hierdie ouerpaar eerste dink. "Zane gaan rassisme aan sy lyf voel, en ek moet hom toerus om dit te kan hanteer" sê Danie. "Hy leef in ’n multikulturele Suid-Afrika, maar soveel mense kan nog steeds net die swart-wit skeiding sien."
Danie vertel van ’n insident wat hom onlangs op sy tande laat byt het. ’n Pa het by ’n sosiale geleentheid kliphard van ‘houtkoppe’ gepraat terwyl Zane langs my staan. Hy’t natuurlik nie besef dat ek Zane se pa is nie. Ek het aspris gesorg dat Zane die hele middag met daai man se seuntjie speel. As die pa nie wil verander nie, sal ek by sy kind begin."
Ook in winkelsentrums word die paartjie aangestaar en mense huiwer nie om vinger te wys of agter bakhande te fluister nie.
Maar daar is ook spesiale oomblikke. Soos toe Esther se ma vir Zane in haar feetjietuin verwelkom het. Esther se ouers woon op dieselfde erf as hulle. Haar ma het ’n versteekte feetjietuin in die een hoek van die erf onder die bome ingerig, spesiaal vir wanneer die kleinkinders kom kuier. Die dag toe Esther vir Zane huis toe bring, het sy en haar ma die feetjietuin se liggies aangesit en daar met hom gespeel. Hy was nou ook ’n kleinkind.
Sal Zane as Afrikaner grootword? Die van Niekerks antwoord beslis: "Hy sal multikultureel grootword. Alhoewel hy ons tradisies sal volg wil ons hom so gou moontlik aan die ander tradisies voorstel. Soos Afrika danse. Die ritme is in sy bloed! Hy sal eindelik drie tale magtig wees; Afrikaans, Engels en Tswana. Albei ons kinders moet toegerus wees om in ’n gemengde Suid-Afrika te kan funksioneer."
Anders maar dieselfde
Esther voel dat sy ’n beter begrip vir Zane se gevoelens het omdat sy self aangeneem is. "Ek sal verstaan as hy na my toe kom en vra hoe sy lyk. As hy sê dat hy meer wil weet, sal ek weet vanwaar die gat in sy hart kom." Zane is reeds duidelik bewus van hulle verskille. Esther het al vir hom gewys dat sy vel bruin is en hare wit. Maar sy het ook uitgewys dat hulle albei bruin oë het en dat die punte van sy vingernaels net so wit is soos hare. Hulle is verskillend, maar dieselfde.
Die geboorte van Nêo-Rie
Zane was skaars ’n maand in die huis toe Esther swanger raak met hulle dogtertjie. Sy het ook ’n gedeeltelike Tswana naam. Nêo beteken ‘geskenk’. Esther maak baie seker dat haar kinders gelyk behandel word: "Zane is Nêo-Rie se ouboet. Hy sal altyd wees. Ek was so hartseer toe iemand my tydens my swangerskap vra of ek nou vir Zane gaan teruggee. So asof hy vir ’n tydjie ’n substitute was."
Die uitdaging vir ons land is groot. As ons maar net verby velkleur kan kyk om mense te sien vir wie hulle is. Ons medemens. Ons gelyke. Pay it forward is die konsep waarmee Danie en Esther hulle kinders grootmaak. Moenie terugbetaal nie. Betaal vorentoe. Wees ’n seën vir ander.
DRIE KULTURE, DRIE BEKENDES PRAAT
Eloise Cupido – Aanbieder (Kwêla)
Kinders vra nie om gebore te word nie. Hulle vra nog minder om verworpe in hierdie wêreld groot te word . Daar is myns insiens te veel mense wat dit nie waardig is om kinders te hê nie, wat maklik swanger raak en hulle dan ‘inruil’ of weggee soos ’n kar of ’n foon. Ek dink dis wonderlik as iemand hulle hart so oop kan maak dat ’n kind se kleur nie raakgesien word nie en hulle die kans gegun word om ook moeder- of vaderliefde te kan ervaar. Ek dink tog dis baie belangrik om die kind se kultuur in ag te neem, want wie ons op die ou end is, is ’n somtotaal van waar ons vandaan kom (ancestors), hoe ons grootword (familie) en die mense waarmee ons onsself omring (gemeenskap). ’n Taal is intiem verweef in ’n kultuur en kultuur is ’n integrale deel van identiteit. Dis moeilik om finaal uitspraak te lewer, want ek was nog nie in ’n situasie waar ek sulke keuses moes maak nie.
Mara Louw – Idols beoordelaar
I believe it’s a wonderful gesture for children who need homes to be adopted by parents who will give them a brighter and better future. Having said that, I strongly believe that cross-cultural adoption is NOT a good option simply because these children grow up not knowing their culture, and in most cases their adoptive families (white families) discourage them from practising and learning their own culture of birth as Africans (I'm talking about black children).
Unfortunately most white people – (NOT ALL WHITE PEOPLE) still believe that they are superior to black people and see us as barbaric, primitive, uncultured etc ... etc … So cross cultural adoption will be a breeding ground for COCONUT FUTURE LEADERS of our country and the rest of the African continent. I don’t agree with cross cultural adoption. Finish and Klaar.
Henrietta Gryffenberg – Skrywer (Erfsondes)
Net nou die dag gaan besoek ek en my seun Ben die SPCA op soek na ’n hondjie. Dit reën en ons loop in die koue van hok tot hok. Benjamin kies elke tweede hond wat hy sien, ek kyk meer krities. Uiteindelik val my oog op ’n pragtige koringkerfgeel Bullmastiff. Dis liefde met die eerste oogopslag. Dit voel of hy tot in my hart kyk met sy swart oë en ek hoor ’n stem hier diep binne my wat sê ‘Daarsy!’. Tot vandag toe wonder ek... Het Simba my gekies of ek vir hom?
’n Mens raak lief vir ’n kind omdat jy hom van kleins af leer ken. Jy versorg hom en maak sy vuil doeke skoon. Dis teen jou lyf wat hy gaan kom inkruip omdat hy in die nag bang geword het, en as hy sy knie nerf-af geval het, weet jy daar’s net een mens wat sal kan troos. Jy! Die een oomblik maak hy jou woedend kwaad en tog sal jy die mens wat ’n haar op sy hoof skaad binne ’n oogwenk verskeur.
As mens die dag ’n kinderhuis binnestap hoop ek dis om die kind te vind wat jy herken met ’n ‘Daarsy!’. Terloops Simba was toe op die ou end glad nie ’n Mastiff nie. Blykbaar is hy meer Boerboel en gaan ons skynbaar ’n tweede verband op ons huis moet uitneem met al die kos wat hy nog gaan opvreet. Sal ek hom weggee oor hy nie van Mastiff kultuur is nie. Nooit!