Ons tyd in Kaapstad en Maclear
Kaapstad
Dit was ‘n heerlike tyd vir ons en die kinders in Kaapstad. Dit het ons almal goed gedoen om al die niggies en nefies en oupa en ouma van der Merwe weer te sien. Ons het Kaapstad toe gegaan om ‘n week by SIM (Serving in Mission) by te woon. Die kinders het die tye wat ons besig was by ouma gekuier. Ouma het vir hulle skool gehou en seker gemaak dat Zane al sy skoolwerk wat sy juffrou gegee het, doen. Hulle het ook op uitstappies gegaan en Jac was dol oor die see. Hy het ouma al haar dae gegee toe hulle uit die water moes kom. Neo-Rie het heerlik met haar niggies, Lua, Lexi en Maya, gespeel en somme gemaak saam met ouma. Ons het 3 keer insiggewende gesprekke met dr. Ryk Velden (Wellington) gehad.
Ons kuier saam met ‘n vriendin Lilly in Muizenberg
Kuiers saam met die van der Merwe familie.
Verbasing oor Jac se vordering
Almal was baie verbaas oor hoe Jac die laaste paar maande gevorder het. Almal is dit eens dat dit ‘n goeie ding is dat ons nog so ‘n rukkie in Suid-Afrika kan wees, voordat ons na Masedonië vertrek … al is dit net om hom te help en sy program te begin. Ons doen die SNAP program met hom (Special Needs Adapted Program) Hy vorder so goed dat dit vir ons skaars moontlik is om dit te glo: Hy kyk mense in die oë, groet hulle en kan al baie meer verdra in die sin van sensories situasies. Hy skree nie meer as ons in winkels inloop nie, mense kan aan sy kop vat (alhoewel hy van gister af weer ‘n bietjie meer sensitief is daaroor) en oor die algemeen gaan dit baie goed. Terwyl ons in die Kaap was, het ons ook ‘n dag by die Chere Botha skool vir kinders met Spesiale Behoeftes, in Bellville deurgebring en met die hoof gesels. Ons het ‘n klas bygewoon en ook ‘n gedeelte van ‘n tuisprogram gedoen met Jac. ‘n Hoogtepunt was dat ons ook weer vir Erica gesien het. Sy is die spraakterapeut wie Jac in Lydenburg vir die eerste keer gesien het en dit was ook daar wat die besef werklik tot ons deurgedring het dat hy outisties is. Sy kon nie glo dat dit dieselfde seuntjie is wat sy amper ‘n jaar gelede gesien het nie! April is Internationale maand vir outisme. Die 2de April was “Light it up blue” dag. Dink aan al die kinders in die wereld wat geafekteer word deur outisme die maand.
Ons tydjie in Patensie en Maclear
Met Zane gaan dit ook goed. Hy het heerlik met sy nefie Steph in Kaapstad gespeel en ook met sy niggie Engela op Patensie. Ons was vir ‘n naweek in Patensie en het ‘n gesprek met albei die predikante daar gehad. Ons het ook by van ons ondersteuners ‘n draai gemaak en hulle meer ingelig oor waar ons nou is in ons voorbereiding om na Masedonië te gaan en hoe ons voortuitsigte lyk. Ons was vir die paasnaweek in Maclear en ons pa, Hendrik van Niekerk, het na n lang oorweging hom laat doop op Paassondag. Dit was vir ons almal ‘n goeie ervaring. Die kinders het die tyd saam met hulle niggies en nefies baie geniet. Neo-Rie het heerlik met Engela en Jac met Dries, Heulen en Isabel gespeel. Ons het die laaste paar dae nie eens geweet van die kinders nie.
Al die niggies en nefies in Patensie
Van Niekerk familie
Vooruitsig van die volgende paar maande
Ons beplan om die 6de April in Pretoria te wees om saam met Phillip die middag te braai wat hier is vir ‘n kuier uit Thailand. Die skool begin dan weer 9 April en ons sal die res van April in Thabazimbi wees. Mei-maand gaan dit redelik dol gaan as ons alles gedoen wil kry wat gedoen moet word. Daar is die moontlikheid dat ek (Esther) ‘n 2 weke lange intensiewe kursus by Unica skool in outisme kan bywoon. Danie beplan ook om Witrivier toe te gaan om met mense van World Outreach te gaan gesels. Aan die einde van Mei is daar ook ‘n kursus in konflikhantering in Witrivier wat ons graag wil bywoon. So baie dinge en so min tyd. Ons wil ook nog ‘n Moslem-kursus iewers bywoon voor ons na Masedonie vertrek.
Ons is baie opgewonde oor die toekoms en dit lyk of dinge nou al hoe meer in plek val. Intussen gaan ons vir die meeste van die tyd nog in Thabazimbi wees, help by Spitskop Special Needs skool en ook meer betrokke raak by die gemeenskap Regorogile. Ons beplan om saam met Autism South Africa ‘n bewusmakingsveldtog te doen oor outisme en ook meer betrokke te raak by Huis Bethelem, ‘n voedingskema en evangelisasie- projek in Regorogile.
Comments